Soos ons begin uitsien na die jaar wat voorlê, is dit belangrik om die beginsels van versekering en hoe dit ’n impak op jou kan hê, te verstaan. Duisende versekeringseise word elke jaar gedeeltelik of ten volle deur versekeraars afgekeur as gevolg van polisuitsluitings of verbreking van voorwaardes. Hier volg 10 dinge wat die vriendskap tussen jou en jou versekeraar sal staande hou, selfs tydens eistyd.
1. Volledige openbaarmaking en deursigtigheid is deurslaggewend
Dit is van uiterste belang dat jy eerlik is wanneer jy versekering uitneem omdat die versekeraar op jou volle openbaarmaking van alle wesenlike inligting staatmaak om jou risikoprofiel akkuraat te kan bepaal. Die gevolg van wesenlike nie-openbaarmaking in die aansoekfase is dat jou polis ongeldig word as dit ontdek word dat jy nie ’n volledige openbaarmaking gedoen het nie. Daar moet geen geheime tussen jou en jou versekeraar wees nie. Versekering werk die beste wanneer albei partye presies weet wat verseker word, en teen watter risiko’s. As jy twyfel, gee eerder te veel as te min inligting.
2. Volle versekerde bedrag “eweredigheidsklousule”
Niemand hou daarvan om beddens, stoele, tafels en kussings item vir item, kamer vir kamer en rand vir rand te tel nie. Dit is verstaanbaar, maar as dit kom by ‘n eis, is jy dalk die verloorder as jy onderverseker is. Dit is belangrik om seker te maak jou kosbaarhede/eiendom is vir die volle waarde daarvan verseker. Hou in gedagte dat wanneer jy eis, jou verlore items met “nuwe” en nie tweedehandse items nie vervang sal word aangesien dit genoem word “Nuut vir Oud”. As die versekerde bedrag ten tyde van die verlies minder is as die vervangingswaarde, sal die eisbedrag met ‘n persentasie verminder word. Byvoorbeeld, as jou eiendom verseker is vir R1 000 000, maar die vervangingswaarde is R1 500 000, beteken dit jy is slegs verseker vir 67% van die vervangingswaarde. Die versekeraar sal die gemiddelde beginsel toepas soos in die tabel hieronder.
3. Ongelisensieerde of ongespesifiseerde bestuurders
Sommige versekeringspolisse dek net die gereelde bestuurder, so enige wanvoorstelling van die gereelde bestuurder se besonderhede – of besonderhede wat nie op datum is nie – kan gronde wees vir die versekeraar om die eis te verwerp. Daarom is dit belangrik om te weet wat jou versekering vereis en om nie te aanvaar dat enigiemand jou voertuig mag bestuur nie. As die voertuig in ‘n ongeluk is met ‘n ongelisensieerde bestuurder agter die stuur, sal die eis verwerp word.
4. Ongedekte gevare wat verlies veroorsaak
Wat algemeen nie gedek word nie, is dinge soos geleidelike agteruitgang en standaard instandhouding van ‘n eiendom – so maak seker jou huis word in stand gehou. Byvoorbeeld die dak en dakteëls moet gereeld nagegaan word om seker te maak jy het nie onverwagte herstelkostes nie. Jou versekering dek jou huis/dak van jou huis vir storm- en haelskade, nie vir agteruitgang en instandhouding nie.
5. Waterskade aan ‘n voertuig
Wees op die uitkyk vir hierdie uitsluiting, want sommige versekeraars sluit ook waterskade aan die enjin uit. Gedurende die reënseisoen is watervlakke op paaie hoog en dit kan jou enjin oorstroom, wat dit kan laat uitbrand. Wees daarom bewus hiervan en ook ander uitsluitings van dinge wat jy gedink het wel gedek is.
6. Bybetalings, ook bekend as “eerste bedrag betaalbaar”
Sommige polisse pas veelvoudige bybetalings toe, wat beteken dat benewens jou standaard bybetaling, ander bybetalings ook van toepassing kan wees. Byvoorbeeld, jong of nuwe bestuurders wat hul lisensies nog nie vir ‘n bepaalde aantal jare het nie, kan aanspreeklik wees vir ‘n bykomende bybetaling; of as jy binne ses maande van verkryging van dekking ‘n ongeluk maak; of tussen middernag en sesuur die oggend. Sommige versekeraars hef ‘n bykomende bybetaling op bestuurders wat ouer as ‘n bepaalde ouderdom is. Die meeste versekeringsmaatskappye bied jou die opsie van ‘n hoër bybetaling in ruil vir laer premies. Maak seker jy weet wat jou bybetalings is sodat jy nie ‘n skok kry wanneer jy eis nie.
7. Roerende goedere nie gedek nie
Daar is dikwels geskille oor wat vaste, wat onroerende en wat roerende items is. Huiseienaarsversekering dek jou slegs vir die vaste struktuur en Huisinhoudversekering dek jou vir enige item wat nie deel van die huisstruktuur is nie, soos goedere, meubels en ander kosbaarhede. Soos dit dikwels verduidelik word: “As jy jou huis onderstebo sou draai, is al die items wat uit die huis sou val deel van huisinhoud.”
8. Hou jou voertuig in stand
Alle motorversekering aanvaar dat jou voertuig padwaardig is. As dit onpadwaardig is wanneer jy eis – sê byvoorbeeld daar word gevind die bande is afgeloop of die remskoene is karton – dan kan jou versekeringseis afgekeur word, so hou jou versiening en instandhouding op datum.
9. Versekering teen Persoonlike Aanspreeklikheid gaan oor finansiële beskerming vir jou en jou gesin.
Hierdie is die soort versekering wat onwaarskynlik is dat jy dit gaan nodig kry, maar wanneer jy dit wel nodig het, is dit dikwels in slegte omstandighede. Dit dek skade aan persone of eiendom van nie-lede van jou huishouding. Jy het aspekte daarvan in Huiseienaar-, Huisinhoud en Motorversekering. Kyk mooi voordat jy versekering teen Persoonlike Aanspreeklikheid koop omdat jy dalk alreeds hierdie dekking het.
10. Eie Ongelukdekking en Motorversekering
Eie Ongelukdekking op motorversekering kan vergoeding bied vir sterfte en gespesifiseerde noemenswaardige beserings wat opgedoen word as gevolg van ‘n motorongeluk. Vir hierdie soort dekking is dit die moeite werd om kieskeurig te wees, selfs baie kieskeurig, want daar is groot verskille tussen polisse. As jy in die eerste plek dink dis dit werd om hierdie soort dekking te kry, sal jy vind as jy die tyd afstaan om hierdie dekking te bestudeer, dit waarskynlik sal lei tot heelwat beter voordele teen min of geen ekstra koste nie.
Algemeen – Moet nooit bang wees om jou versekeraar vrae te vra nie. Hulle is daar om vrae te beantwoord. Lees die fynskrif en maak seker jy is vertroud met en verstaan die bepalings en voorwaardes van jou polis. Dit sluit in items soos bybetalings en uitsluitings. As daar enigiets is wat jy nie verstaan nie, vra jou makelaar of versekeraar om dit aan jou te verduidelik.
By PPS Korttermynversekering stel ons ons lede op prys en moedig hulle aan om slim en intelligente versekeringskeuses te maak om na hul welstand om te sien. Onthou – wanneer jy op jou slegste is, gee ons ons beste.
*PPS Short-Term Insurance Company Limited is ‘n gemagtigde Finansiële Diensteverskaffer.
Deur: Yumna Williams, PPS Short-Term Insurance
https://www.pps.co.za/explorepps/media/Gazette/Pages/February%202019/Afrikaans/10-DINGE-WAT-VERSEKERINGSUITBETALINGS-VERGEMAKLIK--